Daaglikse oordenking

GOD SE SPREKE

Hy het gesê . . . sodat ons met vrymoedigheid kan sê . . .

Hebreërs 13:5-6

My spreke moet op God se spreke gebou word. God sê — "Ek sal u nooit verlaat nie," dan kan ek met goeie moed sê — "Die Here is my helper, ek sal nie vrees nie — " Ek sal nie deur voorgevoel bespook word nie. Dit beteken nie dat ek nie versoek sal word om te vrees nie, maar ek sal God se spreke onthou. Ek sal vol moed wees, soos 'n kind wat "homself bymekaarraap" om die standaard te bereik wat sy vader wil hê. Die geloof van menigeen wankel wanneer die voorgevoelens kom, hulle vergeet die betekenis van God se spreke, vergeet om geestelik diep asem te haal. Die enigste manier om die angs uit ons weg te neem is om na God se spreke te luister.

Waarvoor is u bevrees? U is nie lafhartig daaroor nie, u gaan dit in die gesig staar, maar daar is 'n gevoel van angs. Wanneer daar niks en niemand is om u te help nie, sê — "Maar die Here is my Helper, hierdie sekonde, in my huidige uitkyk." Leer u om dinge te sê nadat u na God geluister het, of sê u dinge en probeer u God se woord daarin laat inpas? Gryp die Vader se spreke aan, en sê dan met goeie moed — "Ek sal nie vrees nie." Dit maak nie saak watter kwaad of onreg in die pad mag wees nie, Hy het gesê — "Ek sal u nooit verlaat nie."

Broosheid is nog iets wat tussen God se spreke en ons s'n inkom. Wanneer ons besef hoe swak ons is om moeilikhede in die gesig te staar, word die moeilikhede soos reuse, word ons soos sprinkane, en word God 'n niksbeduidendheid. Onthou God se spreke — "Ek sal u geensins in die steek laat nie." Het ons geleer om te sing nadat ons God se sleuteltoon gehoor het? Is ons altyd in besit van die moed om te sê — "Die Here is my helper," of swig ons?

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in