"JA — MAAR . . . !"
“Here, ek sal U volg; maar . . .”
Lukas 9:61
Gestel God sê vir u om iets te doen wat 'n ontsaglike toets vir u gesonde verstand is, wat gaan u doen? Terugdeins? As u op die liggaamlike gebied in die gewoonte kom om iets te doen, sal u dit elke keer doen totdat u die gewoonte vasberade verbreek; en dieselfde is geestelik waar. Keer op keer sal u uitkom by wat Jesus Christus wil hê, en elke keer sal u omdraai wanneer dit op die punt aankom, totdat u uself vasberade teuelloos oorgee. "Ja, maar — gestel ek gehoorsaam God wel in hierdie saak, wat van . . . ?" "Ja, ek sal God gehoorsaam as Hy my my gesonde verstand sal laat gebruik, maar moenie my vra om 'n stap in die donker te neem nie." Jesus Christus eis van die mens wat Hom vertrou dieselfde roekelose sportgees wat die natuurlike mens vertoon. As 'n mens enigiets wil doen wat die moeite werd is, is daar tye wanneer hy alles op sy sprong moet waag, en op die geestelike gebied eis Jesus Christus dat u alles wat u volgens gesonde verstand vashou, waag en spring in wat Hy sê en sodra u dit doen, ontdek u dat wat Hy sê net so stewig soos gesonde verstand aansluit. Voor die regbank van gesonde verstand kan Jesus Christus se uitsprake kranksinnig lyk; maar bring hulle voor die regbank van geloof, en u begin met 'n ontsagbevange gees ontdek dat hulle die woorde van God is. Vertrou geheel en al op God, en wanneer Hy u by die waagstuk bring, sorg dat u dit aanpak. Ons tree in 'n krisis soos heidene op, slegs een uit 'n menigte is waaghalsig genoeg om sy geloof op die karakter van God te bank.