ONVERSTOORDE VERHOUDING
“In daardie dag sal julle in My Naam vra . . ." "Die Vader Self het julle lief.”
Johannes 16:26, 27
"In daardie dag sal julle in My Naam vra," d.w.s., in My natuur. Nie — "Julle sal My Naam as 'n towerwoord gebruik," nie maar — "Julle sal so intiem met My wees dat julle een met My sal wees." "Daardie dag" is nie 'n toekomstige dag nie, maar 'n dag wat vir hier en nou bedoel is. "Die Vader Self het julle lief" — die eenheid is so volledig en volstrek. Ons Here bedoel nie dat die lewe vry van uiterlike verwarrings sal wees nie, maar dat net soos Hy die Vader se hart en denke geken het, Hy ons deur die doop met die Heilige Gees kan oplig tot in die hemelse plekke waar Hy die raadsbesluite van God aan ons kan openbaar.
"Wat julle ook al die Vader in My Naam sal vra. . . ." "Daardie dag" is 'n dag van onverstoorde verhouding tussen God en die heilige. Net soos Jesus onbesoedel in die teenwoordigheid van Sy Vader gestaan het, so kan ons deur die magtige doeltreffendheid van die doop met die Heilige Gees, in daardie verhouding opgelig word — "sodat hulle een kan wees, net soos Ons Een is."
"Hy sal dit vir julle gee." Jesus sê dat God ons gebede sal erken. Wat 'n uitdaging! Deur die Opstandings- en Hemelvaartskrag van Jesus, deur die neergestuurde Heilige Gees, kan ons in so 'n verhouding met die Vader opgelig word dat ons deur ons vrye keuse een is met die volmaakte soewereine wil van God net soos Jesus was. In daardie wonderlike posisie, daar geplaas deur Jesus Christus, kan ons tot God bid in Sy Naam, in Sy natuur, wat deur die Heilige Gees aan ons geskenk word, en Jesus sê — "Wat julle ook al die Vader in My Naam sal vra, Hy sal dit vir julle gee." — Die soewereine karakter van Jesus Christus word deur Sy eie uitsprake getoets.