Daaglikse oordenking

ONBEVRAAGDE OPENBARING

En in daardie dag sal julle My niks vra nie.

Johannes 16:23

Wanneer is "daardie dag"? Wanneer die Opgevaarde Here u een met die Vader maak. In daardie dag sal u een met die Vader wees soos Jesus is, en "in daardie dag," sê Jesus, "sal julle My niks vra nie." Totdat die opstandingslewe van Jesus in u geopenbaar word, wil u dit en dat vra; dan ontdek u ná 'n ruk dat al die vrae weg is, dit lyk nie of u nog enigiets het om te vra nie. U het by die plek gekom van algehele vertroue op die opstandingslewe van Jesus wat u in volmaakte aanraking met die doel van God bring. Leef u nou daardie lewe? Indien nie, waarom behoort u nie?

Daar kan enige aantal dinge duister vir u begrip wees, maar hulle kom nie tussen u hart en God in nie. "En in daardie dag sal julle My geen vraag vra nie" — u hoef nie, u is so seker dat God dinge in ooreenstemming met Sy wil sal uitbring. Johannes 14:1 het die werklike toestand van u hart geword, en daar is geen verdere vrae om te vra nie. As enigiets vir u 'n verborgenheid is en dit tussen u en God inkom, moet u nooit die verklaring in u verstand soek nie, soek dit in u aard, dit is wat verkeerd is. Wanneer u aard eenmaal gewillig is om hom aan die lewe van Jesus te onderwerp, sal die begrip volkome helder wees, en sal u by die plek kom waar daar geen afstand tussen die Vader en Sy kind is nie omdat die Here u een gemaak het, en "in daardie dag sal julle My geen vraag vra nie."

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in