DIE GEWOONTE VAN RYKDOM
“Deelgenote van die goddelike natuur.”
2 Petrus 1:4
Ons word deur die beloftes deelgenote van die Goddelike natuur gemaak; dan moet ons deur gewoontes die Goddelike natuur in ons menslike natuur "manipuleer" en die eerste gewoonte om te vorm, is die gewoonte om die voorsiening wat God gemaak het te besef. "O, ek kan dit nie bekostig nie," sê ons — een van die ergste leuens is in daardie frase weggesteek. Dit is onbeheersd slegte smaak om op die natuurlike gebied oor geld te praat, en geestelik is dit ook so, en tog praat ons asof ons Hemelse Vader ons met 'n sjieling afgeskeep het! Ons dink dit is 'n teken van ware beskeidenheid om aan die einde van 'n dag te sê — "O, wel, ek het net-net deurgekom, maar dit was 'n hewige worsteling." En die hele Almagtige God is ons s'n in die Here Jesus! En Hy sal die laaste sandkorrel en die verste ster belas om ons te seën as ons Hom wil gehoorsaam. Wat maak dit saak as uiterlike omstandighede moeilik is? Waarom behoort hulle nie te wees nie! As ons aan selfbejammering toegee en ons aan die weelde van ellende verlustig, verban ons God se rykdom uit ons eie lewens en verhinder ons ander om Sy voorsiening binne te gaan. Geen sonde is erger as die sonde van selfbejammering nie, omdat dit God uitwis en eiebelang op die troon plaas. Dit maak ons monde oop om murmureringe uit te spuug en ons lewens word hunkerende geestelike sponse, daar is niks liefliks of ruimhartigs aan hulle nie.
Wanneer God met ons tevrede begin wees sal Hy alles in die natuur van fiktiewe rykdom verarm, totdat ons leer dat al ons vars bronne in Hom is. As die majesteit en genade en krag van God nie in ons geopenbaar word nie (nie aan ons bewustheid nie), hou God ons verantwoordelik. "God is in staat om alle genade oorvloedig te maak," leer dan om die genade van God rojaal aan ander te bestee. Word met God se natuur gestempel, en Sy seën sal die hele tyd deur u kom.