DIE GEWOONTE OM DIE ONAANGENAME TE GENIET
“Sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees geopenbaar kan word.”
2 Korintiërs 4:10
Ons moet gewoontes vorm om uitdrukking te gee aan wat God se genade in ons gedoen het. Dit is nie 'n kwessie daarvan om uit die hel gered te word nie, maar om gered te word ten einde die lewe van die Seun van God in ons sterflike vlees te openbaar, en dit is die onaangename dinge wat ons laat vertoon of ons Sy lewe openbaar of nie. Openbaar ek die wesenlike soetheid van die Seun van God, of die wesenlike irritasie van "myself" los van Hom? Die enigste ding wat my in staat sal stel om die onaangename te geniet is die intense geesdrif om die lewe van die Seun van God homself in my te laat openbaar. Maak nie saak hoe onaangenaam 'n ding mag wees nie, sê — "Here, dit verheug my om U in hierdie saak te gehoorsaam," en onmiddellik sal die Seun van God na vore deurdruk, en in my menslike lewe sal dit geopenbaar word wat Jesus verheerlik.
Daar mag geen debat wees nie. Die oomblik wanneer u die lig gehoorsaam, druk die Seun van God in daardie bepaalde saak deur u heen; maar as u debatteer bedroef u die Gees van God. U moet uself geskik hou om die lewe van die Seun van God geopenbaar te laat word, en u kan uself nie geskik hou as u aan selfbejammering toegee nie. Ons omstandighede is die middel om te openbaar hoe wonderlik volmaak en buitengewoon rein die Seun van God is. Die ding wat die hart behoort te laat klop is 'n nuwe manier om die Seun van God te openbaar. Dit is een ding om die onaangename te kies, en 'n ander ding om die onaangename binne te gaan omdat God dit so konstrueer. As God u daar plaas, is Hy ruim voldoende.
Hou u siel geskik om die lewe van die Seun van God te openbaar. Moet nooit op herinneringe leef nie; laat die woord van God altyd lewend en aktief in u wees.