U SAL DIT NIE OP U TONE BEREIK NIE
“Voeg by julle broederliefde . . . liefde.”
2 Petrus 1:7
Liefde is vir die meeste van ons onbepaald, ons weet nie wat ons bedoel wanneer ons oor liefde praat nie. Liefde is die soewereine voorkeur van een persoon vir 'n ander, en geestelik eis Jesus dat daardie voorkeur vir Homself moet wees (vgl. Lukas 14:26). Wanneer die liefde van God deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is, is Jesus Christus maklik eerste; dan moet ons die uitwerking van hierdie dinge wat Petrus noem beoefen.
Die eerste ding wat God doen is om geveinsdheid en die vrome houding reg uit my uit te slaan. Die Heilige Gees openbaar dat God my liefgehad het nie omdat ek beminnelik was nie, maar omdat dit Sy natuur was om dit te doen. Nou, sê Hy vir my, betoon dieselfde liefde aan ander — "Wees lief soos Ek u liefgehad het." "Ek sal enige aantal mense rondom u bring wat u nie kan respekteer nie, en u moet My liefde aan hulle vertoon soos Ek dit aan u vertoon het." U sal dit nie op u tone bereik nie. Sommige van ons het probeer, maar ons was gou moeg.
"Die Here is lankmoedig. . . ." Laat my na binne kyk en Sy handelinge met my sien. Die kennis dat God my tot die uiterste liefgehad het, tot aan die einde van al my sonde en laagheid en selfsug en onreg, sal my die wêreld instuur om op dieselfde wyse lief te hê. God se liefde tot my is onuitputlik, en ek moet ander liefhê vanuit die rotsbodem van God se liefde tot my. Groei in genade hou op die oomblik wanneer ek gepikeerd raak. Ek raak gepikeerd omdat ek met 'n eienaardige mens moet saamleef. Dink net hoe onaangenaam ek vir God was! Is ek bereid om so met die Here Jesus vereenselwig te wees dat Sy lewe en Sy soetheid die hele tyd uitgestort word? Nóg natuurlike liefde nóg Goddelike liefde sal bly tensy dit gekweek word. Liefde is spontaan, maar dit moet deur dissipline gehandhaaf word.