DIE GEDULD VAN GELOOF
“Omdat u die woord van My geduld bewaar het.”
Openbaring 3:10
Geduld is meer as uithouvermoë. 'n Heilige se lewe is in die hande van God soos 'n boog en pyl in die hande van 'n boogskutter. God mik na iets wat die heilige nie kan sien nie, en Hy rek en span, en kort-kort sê die heilige — "Ek kan nie meer uithou nie." God gee nie ag nie, Hy gaan voort om te rek totdat Sy doel in sig is, dan laat Hy dit vlieg. Vertrou uself aan God se hande toe. Waarvoor het u juis nou geduld nodig? Handhaaf u verhouding tot Jesus Christus deur die geduld van geloof. "Al maak Hy my dood, nogtans sal ek op Hom wag."
Geloof is nie 'n patetiese sentiment nie, maar robuuste kragtige vertroue wat gebou is op die feit dat God heilige liefde is. U kan Hom nie juis nou sien nie, u kan nie verstaan wat Hy doen nie, maar u ken Hom. Skipbreuk vind plaas waar daar nie daardie verstandelike ewewig is wat daaruit voortkom dat u op die ewige waarheid gevestig is dat God heilige liefde is nie. Geloof is die heldhaftige inspanning van u lewe, u werp uself in roekelose vertroue op God.
God het alles in Jesus Christus gewaag om ons te red, nou wil Hy hê dat ons ons alles in teuellose vertroue in Hom moet waag. Daar is plekke waar daardie geloof nog nie in ons gewerk het nie, plekke wat onaangeraak is deur die lewe van God. Daar was geen van daardie plekke in die lewe van Jesus Christus nie, en daar moet geen in ons s'n wees nie. "Dit is die ewige lewe, dat hulle U kan ken." Die werklike betekenis van die ewige lewe is 'n lewe wat enigiets waarvoor dit te staan kom sonder wankeling in die gesig kan staar. As ons hierdie beskouing inneem, word die lewe een groot romanse, 'n heerlike geleentheid om die hele tyd wonderlike dinge te sien. God dissiplineer ons om ons in hierdie sentrale plek van krag te kry.