BOU VIR DIE EWIGHEID
“Want wie van julle, wat van plan is om 'n toring te bou, gaan nie eers sit, en bereken die koste, of hy genoeg het om dit te voltooi nie?”
Lukas 14:28
Ons Here verwys nie na 'n koste wat ons moet bereken nie, maar na 'n koste wat Hy bereken het. Die koste was daardie dertig jaar in Nasaret, daardie drie jaar van gewildheid, skandaal en haat, die diepe ondeurgrondelike smart in Getsemane, en die aanslag op Golgota — die spil waarom die hele Tyd en Ewigheid draai. Jesus Christus het die koste bereken. Mense gaan uiteindelik nie vir Hom lag en sê — "Hierdie man het begin bou, en kon nie voltooi nie."
Die voorwaardes van dissipelskap wat Ons Here in verse 26, 27 en 33 neergelê het beteken dat die mans en vroue wat Hy in Sy magtige bouondernemings gaan gebruik dié is in wie Hy alles gedoen het. "As iemand na My kom, en nie haat nie . . . kan hy nie My dissipel wees nie." Ons Here impliseer dat die enigste mans en vroue wat Hy in Sy bouondernemings sal gebruik dié is wat Hom persoonlik, hartstogtelik en toegewyd liefhet bo enige van die nouste bande op aarde. Die voorwaardes is streng, maar hulle is heerlik.
Alles wat ons bou gaan deur God geïnspekteer word. Gaan God in Sy deursoekende vuur ontdek dat ons op die fondament van Jesus 'n onderneming van ons eie gebou het? Dit is dae van ontsaglike ondernemings, dae waarin ons probeer om vir God te werk, en daarin lê die strik. Diep gesproke, kan ons nooit vir God werk nie. Jesus neem ons geheel en al oor vir Sy ondernemings, Sy bouskemas, en geen siel het enige reg om aanspraak te maak op die plek waar hy geplaas sal word nie.