DIE SPONTANEÏTEIT VAN LIEFDE
“Die liefde is lankmoedig, en vriendelik . . .”
1 Korintiërs 13:4-8
Liefde is nie vooraf bedink nie, dit is spontaan, d.w.s., dit bars op buitengewone wyses uit. Daar is niks van wiskundige sekerheid in Paulus se kategorie van liefde nie. Ons kan nie sê nie — "Nou gaan ek geen kwaad bedink nie; ek gaan alle dinge glo." Die kenmerk van liefde is spontaneïteit. Ons stel nie Jesus se uitsprake voor ons as 'n standaard nie; maar wanneer Sy Gees Sy gang met ons gaan, leef ons volgens Sy standaard sonder om dit te weet, en wanneer ons terugkyk is ons verstom oor die onbaatsugtigheid van 'n bepaalde emosie, wat die bewys is dat die spontaneïteit van werklike liefde daar was. In alles wat met die lewe van God in ons te doen het, word die natuur daarvan eers onderskei wanneer dit verby is.
Die bronne van liefde is in God, nie in ons nie. Dit is absurd om van nature na die liefde van God in ons harte te soek, dit is slegs daar wanneer dit deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is.
As ons aan God probeer bewys hoe lief ons Hom het, is dit 'n gewisse teken dat ons Hom nie liefhet nie. Die bewys van ons liefde vir Hom is die volkome spontaneïteit van ons liefde, dit kom natuurlik. Wanneer ons terugkyk kan ons nie sê waarom ons bepaalde dinge gedoen het nie, ons het hulle gedoen volgens die spontane natuur van Sy liefde in ons. Die lewe van God openbaar homself op hierdie spontane wyse omdat die bronne van liefde in die Heilige Gees is. (Romeine 5:5.)