DIE GENADIGHEID VAN ONSEKERHEID
“Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie.”
1 Johannes 3:2
Van nature, is ons geneig om so wiskundig en berekenend te wees dat ons onsekerheid as 'n slegte ding beskou. Ons verbeel ons dat ons een of ander eindpunt moet bereik, maar dit is nie die natuur van die geestelike lewe nie. Die natuur van die geestelike lewe is dat ons seker in ons onsekerheid is, gevolglik maak ons nêrens ons neste nie. Gesonde verstand sê — "Wel, gestel ek was in daardie toestand . . ." Ons kan onsself nie in enige toestand indink waarin ons nog nooit was nie. Sekerheid is die kenmerk van die lewe van gesonde verstand: genadige onsekerheid is die kenmerk van die geestelike lewe. Om seker van God te wees beteken dat ons onseker in al ons weë is, ons weet nie wat 'n dag kan voortbring nie. Dit word gewoonlik met 'n sug van droefheid gesê, dit behoort eerder 'n uiting van asemlose verwagting te wees. Ons is onseker oor die volgende stap, maar ons is seker van God. Sodra ons ons teuelloos aan God oorgee, en die plig doen wat die naaste lê, pak Hy ons lewe heeltyd vol verrassings. Wanneer ons voorstanders van 'n geloofsoortuiging en geloofsbelydenis word, sterf iets; ons glo God nie, ons glo slegs ons geloof omtrent Hom. Jesus het gesê, "Tensy julle soos kindertjies word." Die geestelike lewe is die lewe van 'n kind. Ons is nie onseker van God nie, maar onseker oor wat Hy volgende gaan doen. As ons slegs seker in ons opvattings is, word ons waardig en streng en dra ons beskouings die banvloek van finaliteit; maar wanneer ons reg tot God in verhouding staan, is die lewe vol spontane, vreugdevolle onsekerheid en verwagting.
"Glo ook in My," het Jesus gesê, in plaas van — "Glo bepaalde dinge omtrent My." Laat die hele ding aan Hom oor, dit is heerlik onseker hoe Hy sal inkom, maar Hy sal kom. Bly lojaal aan Hom.