Daaglikse oordenking

WAT U SAL KRY

U lewe sal Ek u as buit gee op al die plekke waarheen u gaan.

Jeremia 45:5

Dit is die Here se onwrikbare geheim vir dié wat Hom vertrou — "Ek sal u u lewe gee." Wat meer wil 'n mens hê as sy lewe? Dit is die noodsaaklike ding. "U lewe as buit" beteken dat waarheen u ook al mag gaan, selfs al is dit die hel in, u met u lewe sal uitkom, niks kan dit skaad nie. So baie van ons word vasgevang in die vertoon van dinge, nie in die opsig van eiendom en besittings nie, maar van seëninge. Al hierdie dinge moet gaan; maar daar is iets grootser wat nooit kan gaan nie — die lewe wat "saam met Christus in God verborge is."

Is u bereid om God u in eenheid met Homself te laat inneem, en geen verdere aandag te skenk aan wat u die groot dinge noem nie? Is u bereid om u geheel en al teuelloos oor te gee en te laat gaan? Die toets van teuellose oorgawe lê daarin om te weier om te sê — "Wel, wat van dit?" Waak teen veronderstellings. Sodra u toelaat — Wat van dit? — beteken dit dat u nie teuelloos oorgegee het nie, u vertrou God nie werklik nie. Sodra u wel teuelloos oorgee, dink u nie meer oor wat God gaan doen nie.

Teuellose oorgawe beteken om uself die weelde te weier om enige vrae te stel. As u u geheel en al teuelloos aan God oorgee, sê Hy dadelik, "U lewe sal Ek u as buit gee." Die rede vir mense se lewensmoegheid is dat God hulle niks gegee het nie, hulle het nie hulle lewe as buit verkry nie. Die manier om uit daardie toestand te kom is om u teuelloos aan God oor te gee. Wanneer u wel tot teuellose oorgawe aan God deurkom, sal u die mees verbaasde en verheugde skepsel op aarde wees; God het u volkome in besit gekry en het u u lewe gegee. As u nie daar is nie, is dit óf vanweë ongehoorsaamheid óf 'n weiering om eenvoudig genoeg te wees.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in