WAT WIL U HÊ?
“Soek u groot dinge vir uself?”
Jeremia 45:5
Soek u groot dinge vir uself? Nie om 'n groot persoon te wees nie, maar om groot dinge van God vir uself te soek. God wil u in 'n nouer verhouding tot Homself hê as dié van die ontvangs van Sy gawes, Hy wil hê dat u Hom leer ken. 'n Groot ding is toevallig, dit kom en gaan. God gee ons nooit enigiets toevalligs nie. Daar is niks makliker as om in 'n regte verhouding met God te kom nie behalwe wanneer dit nie God is wat u wil hê nie maar slegs wat Hy gee.
As u slegs so ver gekom het as om God vir dinge te vra, het u nooit by die eerste draad van teuellose oorgawe gekom nie, u het uit 'n standpunt van u eie 'n Christen geword. "Ek het God wel vir die Heilige Gees gevra, maar Hy het my nie die rus en die vrede gegee wat ek verwag het nie." Onmiddellik plaas God Sy vinger op die rede — u soek glad nie die Here nie, u soek iets vir uself. Jesus sê — "Vra, en vir julle sal gegee word." Vra God vir wat u wil hê, en u kan nie vra as u nie vir 'n regte ding vra nie. Wanneer u tot God nader, hou u op om vir dinge te vra. "Julle Vader weet watter dinge julle nodig het, voordat julle Hom vra." Waarom dan vra? Sodat u Hom kan leer ken.
Soek u groot dinge vir uself? "O Here, doop my met die Heilige Gees." As God dit nie doen nie, is dit omdat u nie teuelloos genoeg aan Hom oorgegee is nie, daar is iets wat u nie wil doen nie. Is u bereid om uself te vra wat dit is wat u van God wil hê en waarom u dit wil hê? God ignoreer altyd die huidige volmaaktheid ter wille van die uiteindelike volmaaktheid. Hy is nie daarmee gemoeid om u juis nou geseënd en gelukkig te maak nie; Hy werk voortdurend Sy uiteindelike volmaaktheid uit — "sodat hulle een kan wees net soos Ons is."