DIE HOOGSTE BESTYGING
“Neem nou u seun . . en offer hom daar as 'n brandoffer op een van die berge waarvan Ek u sal sê.”
Genesis 22:2
Karakter bepaal hoe 'n mens God se wil vertolk (vgl. Psalm 18:25-26). Abraham het God se bevel vertolk as dat hy sy seun moes doodmaak, en hy kon hierdie tradisie slegs deur die pyn van 'n ontsaglike beproewing agterlaat. God kon sy geloof op geen ander manier suiwer nie. As ons gehoorsaam wat God volgens ons opregte geloof sê, sal God ons losbreek van daardie tradisies wat Hom verkeerd voorstel. Daar is baie sulke opvattings waarvan ontslae geraak moet word, bv., dat God 'n kind wegneem omdat die moeder hom te veel liefhet — 'n leuen van die duiwel! en 'n verdraaiing van die ware natuur van God. As die duiwel ons kan verhinder om die hoogste bestyging aan te pak en van verkeerde tradisies oor God ontslae te raak, sal hy dit doen; maar as ons aan God getrou bly, sal God ons deur 'n beproewing neem wat ons in 'n beter kennis van Homself sal uitbring.
Die groot punt van Abraham se geloof in God was dat hy bereid was om enigiets vir God te doen. Hy was daar om God te gehoorsaam, ongeag teen watter opvatting hy ingegaan het. Abraham was nie 'n vereerder van sy oortuigings nie, anders sou hy Isak doodgemaak en gesê het dat die stem van die engel die stem van die duiwel was. Dit is die houding van 'n fanatikus. As u aan God getrou bly, sal God u reguit deur elke versperring tot in die binnekamer van die kennis van Homself lei; maar daar is altyd hierdie punt van die prysgee van oortuigings en tradisionele opvattings. Moenie God vra om u te toets nie. Moet nooit soos Petrus verklaar nie — "Ek sal enigiets doen, ek sal saam met U na die dood gaan." Abraham het geen sodanige verklaring gemaak nie, hy het aan God getrou gebly, en God het sy geloof gesuiwer.