DIE WAARSKUWING TEEN LOSBANDIGHEID
“Verheug julle nietemin hierin, dat die geeste aan julle onderworpe is nie.”
Lukas 10:20
As Christelike arbeiders, is wêreldsgesindheid nie ons strik nie, sonde is nie ons strik nie, maar geestelike losbandigheid is, nl.: om die patroon en afdruk van die godsdienstige tyd waarin ons leef aan te neem, om oë vir geestelike sukses te maak. Moet nooit enigiets anders as die goedkeuring van God die hof maak nie, gaan "buite die laer, en dra Sy smaad." Jesus het vir die dissipels gesê om hulle nie oor suksesvolle diens te verheug nie, en tog lyk dit of dit die een ding is waaroor die meeste van ons ons wel verheug. Ons het die kommersiële siening — soveel siele gered en geheilig, dank God, nou is alles reg. Ons werk begin waar God se genade die fondament gelê het; ons moet nie siele red nie, maar hulle dissipels maak. Redding en heiligmaking is die werk van God se soewereine genade; ons werk as Sy dissipels is om lewens dissipels te maak totdat hulle geheel en al aan God oorgegee is. Een lewe wat geheel en al aan God toegewy is is vir God waardevoller as honderd lewens wat bloot deur Sy Gees wakker gemaak is. As arbeiders vir God moet ons geestelik ons eie soort voortbring, en dit sal God se getuienis aan ons as arbeiders wees. God bring ons deur Sy genade tot 'n lewenstandaard, en ons is daarvoor verantwoordelik om daardie standaard in ander voort te bring.
Tensy die arbeider 'n lewe leef wat saam met Christus in God verborge is, is hy geneig om 'n irriterende diktator te word in plaas van 'n inwonende dissipel. Baie van ons is diktators, ons dikteer aan mense en aan byeenkomste. Jesus dikteer nooit op daardie wyse aan ons nie. Wanneer Ons Here ook al oor dissipelskap gepraat het, het Hy dit altyd voorafgegaan met 'n "AS," nooit met 'n nadruklike bewering nie — "U moet." Dissipelskap dra 'n keuse met hom saam.