DIE AANBIDDING VAN DIE WERK
“Arbeiders saam met God.”
1 Korintiërs 3:9
Waak teen enige werk vir God wat u in staat stel om konsentrasie op Hom te ontwyk. Baie Christelike arbeiders aanbid hulle werk. Die een besorgdheid van 'n arbeider behoort konsentrasie op God te wees, en dit sal beteken dat al die ander marges van die lewe, verstandelik, sedelik en geestelik, vry is met die vryheid van 'n kind, 'n aanbiddende kind, nie 'n eiesinnige kind nie. 'n Arbeider sonder hierdie plegtige oorheersende toon van konsentrasie op God is geneig om sy werk op sy nek te kry; daar is geen marge van liggaam, denke of gees vry nie, gevolglik raak hy volledig uitgeput en verpletter. Daar is geen vryheid, geen vreugde in die lewe nie; senuwees, denke en hart is so verpletterend belas dat God se seën nie kan rus nie. Maar die ander kant is net so waar — wanneer die konsentrasie eenmaal op God is, is al die marges van die lewe vry en onder die oorheersing van God alleen. Daar rus geen verantwoordelikheid vir die werk op u nie; die enigste verantwoordelikheid wat u het is om in lewende, voortdurende aanraking met God te bly en toe te sien dat u niks toelaat om u samewerking met Hom te hinder nie. Die vryheid ná heiligmaking is die vryheid van 'n kind, die dinge wat die lewe voorheen vasgespeld gehou het is weg. Maar sorg dat u onthou dat u slegs vir een ding bevry is — om volkome aan u mede-Arbeider toegewy te wees.
Ons het geen reg om te oordeel waar ons geplaas behoort te word, of om vooropgestelde idees te hê oor waarvoor God ons geskik maak nie. God konstrueer alles; waar Hy ons ook al plaas is ons een groot doel om 'n heelhartige toewyding aan Hom in daardie bepaalde werk uit te giet. "Alles wat u hand vind om te doen, doen dit met u mag."