DIE LIG WAT FAAL
“Ons almal wat met onbedekte gesig . . . die heerlikheid van die Here aanskou.”
2 Korintiërs 3:18
'n Dienaar van God moet so geheel alleen staan dat hy nooit weet hy is alleen nie. In die eerste fases van die Christelike lewe kom ontmoedigings, mense wat vroeër ligte was flikker uit, en dié wat vroeër saam met ons gestaan het val weg. Ons moet so daaraan gewoond raak dat ons nooit weet ons staan alleen nie. "Almal het my verlaat . . nietemin het die Here by my gestaan" (2 Timoteus 4:16-17). Ons moet ons geloof bou, nie op die vervagende lig nie, maar op die lig wat nooit faal nie. Wanneer "groot" mense weggaan is ons bedroef, totdat ons sien dat dit bedoel is dat hulle moet gaan, die een ding wat oorbly is om self in die aangesig van God te kyk.
Laat niks u daarvan weerhou om God streng in die aangesig te kyk oor uself en oor u leerstelling nie, en sorg elke keer wanneer u preek dat u God eers oor dinge in die aangesig kyk, dan sal die heerlikheid dwarsdeur bly. 'n Christelike arbeider is iemand wat voortdurend in die aangesig van God kyk en dan uitgaan om met mense te praat. Die kenmerk van die bediening van Christus is dié van onbewuste heerlikheid wat bly. "Moses het nie geweet dat die vel van sy gesig geblink het terwyl hy met Hom gepraat het nie."
Ons word nooit geroep om met ons twyfel te pronk of om die verborge verrukkings van ons lewe met God uit te spreek nie. Die geheim van die arbeider se lewe is dat hy die hele tyd met God ingestem bly.