KAN 'N HEILIGE GOD BELASTER?
“Want al die beloftes van God in Hom is ja, en in Hom amen.”
2 Korintiërs 1:20
Jesus het die gelykenis van die talente wat in Matteus 25 opgeteken is vertel as 'n waarskuwing dat dit vir ons moontlik is om ons vermoë verkeerd te beoordeel. Hierdie gelykenis het nie met natuurlike gawes te doen nie, maar met die Pinkstergawe van die Heilige Gees. Ons moet nie ons geestelike vermoë aan opvoeding of verstand meet nie; ons vermoë in geestelike dinge word aan die beloftes van God gemeet. As ons minder ontvang as wat God wil hê ons moet hê, sal ons Hom kort voor lank belaster soos die dienaar sy meester belaster het: "U verwag meer as waarvoor U my krag gee; U eis te veel van my, ek kan nie getrou aan U staan waar ek geplaas is nie." Wanneer dit 'n saak van God se Almagtige Gees is, vermy die woorde "Ek kan nie." Moet nooit die beperking van natuurlike vermoë laat inkom nie. As ons die Heilige Gees ontvang het, verwag God dat die werk van die Heilige Gees in ons geopenbaar word.
Die dienaar het homself geregverdig in alles wat hy gedoen het en sy heer op elke punt veroordeel — "U eis staan geheel buite verhouding tot wat U gee." Het ons God belaster deur te durf bekommer wanneer Hy gesê het: "Soek eers die Koninkryk van God, en Sy geregtigheid; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word"? Bekommernis beteken presies wat hierdie dienaar geïmpliseer het — "Ek weet U is van plan om my in die steek te laat." Die mens wat van nature lui is is altyd vitlustig — "Ek het nie 'n behoorlike kans gehad nie," en die een wat geestelik lui is is vitlustig teenoor God. Lui mense slaan altyd 'n onafhanklike lyn in.
Moet nooit vergeet dat ons vermoë in geestelike sake aan die beloftes van God gemeet word nie. Is God in staat om Sy beloftes te vervul? Ons antwoord hang daarvan af of ons die Heilige Gees ontvang het.