Daaglikse oordenking

KAN U AFKOM?

Terwyl julle die lig het, glo in die lig.

Johannes 12:36

Ons almal het oomblikke wanneer ons beter as ons beste voel, en ons sê — "Ek voel geskik vir enigiets; as ek tog maar altyd so kon wees!" Ons is nie bedoel om so te wees nie. Daardie oomblikke is oomblikke van insig waarvolgens ons moet leef wanneer ons nie so voel nie. Baie van ons is van geen nut vir hierdie alledaagse werkswêreld wanneer daar geen verhewe uur is nie. Ons moet ons alledaagse lewe opbring tot die standaard wat in die verhewe uur geopenbaar is.

Moet nooit toelaat dat 'n gevoel wat in die verhewe uur in u opgewek is verdamp nie. Moenie u verstandelike voete op die kaggelrak sit en sê nie — "Wat 'n wonderlike gemoedstoestand om in te wees!" Handel onmiddellik, doen iets, al is dit net omdat u dit liewer nie wil doen nie. As God in 'n biduur vir u iets gewys het om te doen, vermy om te sê — "Ek sal dit doen"; doen dit! Gryp uself aan die nekvel en skud u vleesgeworde luiheid af. Luiheid word altyd gesien in hunkerings na die verhewe uur; ons praat daarvan om op te werk na 'n tyd op die berg. Ons moet leer om in die grys dag te leef volgens wat ons op die berg gesien het.

Moenie ineenstort omdat u een keer gestuit is nie, pak dit weer aan. Verbrand u brûe agter u, en staan deur u eie daad aan God verbind. Moet nooit u besluite hersien nie, maar sorg dat u u besluite in die lig van die verhewe uur neem.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in