DIE TERUGVAL VAN KONSENTRASIE
“Maar die hoogtes is nie uit Israel verwyder nie; nietemin was die hart van Asa al sy dae volkome.”
2 Kronieke 15:17
Asa was onvolledig in sy uiterlike gehoorsaamheid, hy was in hoofsaak reg maar nie geheel en al reg nie. Waak teen die ding waarvan u sê — "O, dit maak nie veel saak nie." Die feit dat dit vir u nie veel saak maak nie kan beteken dat dit vir God baie groot saak maak. Niks is vir 'n kind van God 'n ligte saak nie. Hoeveel langer gaan sommige van ons God aanhou laat probeer om ons een ding te leer? Hy verloor nooit geduld nie. U sê — "Ek weet dat ek reg met God is"; maar steeds bly die "hoogtes" oor, daar is iets waaroor u nie gehoorsaam het nie. Hou u vol dat u hart reg met God is, en tog is daar iets in u lewe waaroor Hy u laat twyfel het? Wanneer daar ook al twyfel is, hou onmiddellik op, ongeag wat dit is. Niks is bloot 'n besonderheid nie.
Is daar sommige dinge in verband met u liggaamlike lewe, u verstandelike lewe, waarop u glad nie konsentreer nie? U is in hoofsaak reg maar u is slordig; daar is 'n terugval op die lyn van konsentrasie. U het net so min 'n vakansie van geestelike konsentrasie nodig as wat u hart 'n vakansie van klop nodig het. U kan nie 'n sedelike vakansie hou en sedelik bly nie, en u kan ook nie 'n geestelike vakansie hou en geestelik bly nie. God wil hê dat u geheel en al Syne moet wees, en dit beteken dat u moet waak om uself geskik te hou. Dit neem geweldig baie tyd. Sommige van ons verwag om "die tallose bestygings te voltooi" in ongeveer twee minute.