GEÏNSPIREERDE ONOORWINLIKHEID
“Neem My juk op julle, en leer van My.”
Matteus 11:29
"Wie die Here liefhet, tugtig Hy." Hoe kleingeestig is ons gekla! Ons Here begin ons in die plek bring waar ons gemeenskap met Hom kan hê, en ons kreun en sê — "O Here, laat my soos ander mense wees!" Jesus vra ons om een kant van die juk op te neem — "My juk is sag, kom langs My en ons sal saam trek." Is u só met die Here Jesus vereenselwig? Indien wel, sal u God dank vir die druk van Sy hand.
"Aan dié wat geen krag het nie vermeerder Hy sterkte." God kom en neem ons uit ons sentimentaliteit, en ons gekla verander in 'n lofsang. Die enigste manier om die sterkte van God te ken is om die juk van Jesus op ons te neem en van Hom te leer.
"Die blydskap van die Here is julle sterkte." Waar kry die heiliges hulle blydskap vandaan? As ons sommige heiliges nie geken het nie, sou ons sê — "O, hy, of sy, het niks om te dra nie." Lig die sluier. Die feit dat die vrede en die lig en die blydskap van God daar is is 'n bewys dat die las ook daar is. Die las wat God plaas pers die druiwe en die wyn kom uit; die meeste van ons sien slegs die wyn. Geen mag op aarde of in die hel kan die Gees van God in 'n menslike gees oorwin nie, dit is 'n innerlike onoorwinlikheid.
As u die gejammer[1] in u het, skop dit genadeloos uit. Dit is 'n besliste misdaad om swak te wees in God se sterkte.
[1] Chambers plaas hier die Engelse wine (wyn) langs whine (gejammer) as 'n klankwoordspeling.