SEDELIKE HEERSKAPPY
“Die dood heers nie meer oor Hom nie . . . deurdat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle inderdaad dood vir die sonde is, maar lewend vir God.”
Romeine 6:9-11
Mede-ewige lewe.
Die ewige lewe was die lewe wat Jesus Christus op die menslike vlak vertoon het, en dit is dieselfde lewe, nie 'n afskrif daarvan nie, wat in ons sterflike vlees geopenbaar word wanneer ons uit God gebore is. Die ewige lewe is nie 'n gawe wat van God kom nie, die ewige lewe is die gawe van God. Die energie en die krag wat in Jesus geopenbaar is sal deur die blote soewereine genade van God in ons geopenbaar word wanneer ons eenmaal die sedelike beslissing oor sonde geneem het.
"Julle sal die krag van die Heilige Gees ontvang" — nie krag as 'n gawe van die Heilige Gees nie; die krag is die Heilige Gees, nie iets wat Hy toebedeel nie. Die lewe wat in Jesus was word deur middel van Sy Kruis ons s'n wanneer ons eenmaal die beslissing neem om met Hom vereenselwig te word. As dit moeilik is om reg met God te kom, is dit omdat ons nie beslis oor sonde wil besluit nie. Onmiddellik wanneer ons wel besluit, kom die volle lewe van God binne. Jesus het gekom om ons eindelose voorrade lewe te gee: "sodat julle met al die volheid van God vervul kan word." Die Ewige Lewe het niks met Tyd te doen nie, dit is die lewe wat Jesus geleef het toe Hy hier onder was. Die enigste bron van Lewe is die Here Jesus Christus.
Die swakste heilige kan die krag van die Godheid van die Seun van God ervaar as hy eenmaal gewillig is om "te laat gaan." Enige draad van ons eie energie sal die lewe van Jesus verdof. Ons moet aanhou laat gaan, en stadig maar seker sal die groot volle lewe van God elke deel van ons binnedring, en mense sal van ons kennis neem dat ons saam met Jesus was.