HET EK HOM GESIEN?
“Daarna het Hy in 'n ander gedaante aan twee van hulle verskyn.”
Markus 16:12
Om gered te wees en om Jesus te sien is nie dieselfde ding nie. Baie is deelgenote van God se genade wat Jesus nog nooit gesien het nie. Wanneer u Jesus eenmaal gesien het, kan u nooit dieselfde wees nie, ander dinge spreek u nie aan soos voorheen nie.
Onderskei altyd tussen wat u sien dat Jesus is, en wat Hy vir u gedoen het. As u slegs weet wat Hy vir u gedoen het, het u nie 'n groot genoeg God nie; maar as u 'n visioen van Jesus gehad het soos Hy is, kan ervarings kom en gaan, u sal volhard "soos een wat Hom sien wat onsienlik is." Die man wat van sy geboorte af blind was het nie geweet Wie Jesus is totdat Hy verskyn en Homself aan hom geopenbaar het nie. Jesus verskyn aan dié vir wie Hy iets gedoen het; maar ons kan nie voorskryf wanneer Hy sal kom nie. Skielik by enige draai kan Hy kom. "Nou sien ek Hom!"
Jesus moet aan u vriend sowel as aan u verskyn, niemand kan Jesus met u oë sien nie. Skeiding vind plaas waar die een en nie die ander nie Jesus gesien het. U kan u vriend nie bring tensy God hom bring nie. Het u Jesus gesien? Dan sal u wil hê dat ander Hom ook moet sien. "En hulle het gegaan en dit aan die res vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie." U moet vertel, hoewel hulle nie glo nie.
"O kon ek dit vertel, sou julle dit sekerlik glo!
O kon ek net sê wat ek gesien het! Hoe sou ek vertel of hoe kan julle dit ontvang, hoe, totdat Hy julle bring waar ek was?"