Daaglikse oordenking

SY OPSTANDINGSBESTEMMING

Moes Christus nie hierdie dinge ly, en in Sy heerlikheid ingaan nie?

Lukas 24:26

Ons Here se Kruis is die poort tot Sy lewe: Sy Opstanding beteken dat Hy nou die mag het om Sy lewe aan my oor te dra. Wanneer ek van bo wedergebore is, ontvang ek van die Opgestane Here Sy eie lewe.

Ons Here se Opstandingsbestemming is om "baie seuns tot heerlikheid te bring." Die vervulling van Sy bestemming gee Hom die reg om ons seuns en dogters van God te maak. Ons is nooit in die verhouding tot God waarin die Seun van God is nie; maar ons word deur die Seun in die verhouding van seunskap gebring. Toe Ons Here uit die dode opgestaan het, het Hy opgestaan tot 'n volkome nuwe lewe, tot 'n lewe wat Hy nie geleef het voordat Hy vlees geword het nie. Hy het opgestaan tot 'n lewe wat nooit tevore bestaan het nie; en Sy opstanding beteken vir ons dat ons opgewek word tot Sy opgestane lewe, nie tot ons ou lewe nie. Eendag sal ons 'n liggaam hê soos Sy heerlike liggaam, maar ons kan nou die doeltreffendheid van Sy opstanding ken en in nuutheid van lewe wandel. "Ek wil Hom ken in die krag van Sy opstanding."

"Soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het die ewige lewe kan gee." "Heilige Gees" is die proefondervindelike naam vir die Ewige Lewe wat hier en nou in mense werk. Die Heilige Gees is die Godheid in uitgaande krag wat die Versoening op ons ervaring toepas. Dank God dat dit heerlik en majestueus waar is dat die Heilige Gees die eie natuur van Jesus in ons kan bewerk as ons Hom wil gehoorsaam.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in