WAAROM WORD ONS NIE REGUIT VERTEL NIE?
“Hy het hulle beveel dat hulle niemand moes vertel wat hulle gesien het, voordat die Seun van die Mens uit die dode opgestaan het nie.”
Markus 9:9
Sê niks totdat die Seun van die Mens in u opgestaan het nie — totdat die lewe van die opgestane Christus u so oorheers dat u verstaan wat die historiese Christus geleer het. Wanneer u aan die binnekant in die regte toestand kom, is die woord wat Jesus gespreek het so duidelik dat u verbaas is dat u dit nie voorheen gesien het nie. U kon dit voorheen nie verstaan nie, u was wat u aard betref nie op die plek waar dit gedra kon word nie.
Ons Here verberg hierdie dinge nie; hulle is ondraaglik totdat ons in 'n geskikte toestand van geestelike lewe kom. "Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie." Daar moet gemeenskap met Sy opgestane lewe wees voordat 'n bepaalde woord deur ons gedra kan word. Weet ons enigiets van die toebedeling van die opgestane lewe van Jesus? Die bewys dat ons wel weet is dat Sy woord vir ons vertolkbaar word. God kan niks aan ons openbaar as ons nie Sy Gees het nie. 'n halsstarrige uitkyk sal God effektief verhinder om enigiets aan ons te openbaar. As ons oor 'n leerstelling klaar besluit het, sal die lig van God nie meer op daardie lyn na ons kom nie, ons kan dit nie ontvang nie. Hierdie afgestompte stadium sal onmiddellik eindig [wanneer] Sy opstandingslewe sy gang met ons gaan.
"Vertel niemand nie . . " — so baie vertel wel wat hulle op die berg van Gedaanteverandering gesien het. Hulle het die visioen gehad en hulle getuig daarvan, maar die lewe stem nie daarmee ooreen nie, die Seun van die Mens het nog nie in hulle opgestaan nie. Ek wonder wanneer Hy in u en in my gevorm gaan word?