SY SMART EN ONS GEMEENSKAP
“Toe kom Jesus saam met hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en sê vir die dissipels, Bly julle hier, en waak saam met My.”
Matteus 26:36, 38
Ons kan nooit die smart in Getsemane peil nie, maar ons hoef dit ten minste nie verkeerd te verstaan nie. Dit is die smart van God en Mens in een, van aangesig tot aangesig met sonde. Ons weet deur persoonlike ervaring niks van Getsemane nie. Getsemane en Golgota staan vir iets unieks; hulle is vir ons die poort na die Lewe.
Dit was nie die dood aan die kruis wat Jesus in Getsemane gevrees het nie; Hy het uiters nadruklik verklaar dat Hy met die doel gekom het om te sterf. In Getsemane het Hy gevrees dat Hy moontlik nie as Seun van die Mens sou deurkom nie. Hy sou as Seun van God deurkom — Satan kon Hom daar nie aanraak nie; maar Satan se aanslag was dat Hy slegs as 'n geïsoleerde Figuur sou deurkom; en dit sou beteken dat Hy geen Verlosser kon wees nie. Lees die verslag van die smart in die lig van die versoeking: "Toe het die duiwel Hom vir 'n tyd verlaat." In Getsemane het Satan teruggekom en is hy weer omvergewerp. Satan se finale aanslag teen ons Here as Seun van die Mens is in Getsemane.
Die smart in Getsemane is die smart van die Seun van God ter vervulling van Sy bestemming as die Verlosser van die wêreld. Die sluier word opsy getrek om alles te openbaar wat dit Hom gekos het om dit vir ons moontlik te maak om seuns van God te word. Sy smart is die grondslag van die eenvoud van ons redding. Die Kruis van Christus is 'n triomf vir die Seun van die Mens. Dit was nie net 'n teken dat Ons Here getriomfeer het nie, maar dat Hy getriomfeer het om die menslike geslag te red. Elke mens kan nou tot in die teenwoordigheid van God deurkom vanweë dit waardeur die Seun van die Mens gegaan het.