DIE HEERLIKHEID WAT OORTREF
“Die Here . . . het my gestuur sodat u u sig kan ontvang.”
Handelinge 9:17
Toe Paulus sy sig ontvang het, het hy geestelik insig in die Persoon van Jesus Christus ontvang, en sy hele daaropvolgende lewe en prediking was niks anders nie as Jesus Christus — "Ek het my voorgeneem om niks onder julle te weet nie, behalwe Jesus Christus, en Hom as gekruisigde." Geen aantrekkingskrag is ooit toegelaat om die denke en siel van Paulus vas te hou nie behalwe die aangesig van Jesus Christus.
Ons moet leer om 'n ongeskonde karaktertoestand te handhaaf tot by die laaste kerf wat in die visioen van Jesus Christus geopenbaar is.
Die blywende kenmerk van 'n geestelike mens is die vertolking van die Here Jesus Christus aan homself, en die vertolking van die doelstellings van God aan ander. Die een gekonsentreerde hartstog van die lewe is Jesus Christus. Wanneer u hierdie toon in 'n mens teëkom, voel u dat hy 'n man na God se eie hart is.
Moet nooit toelaat dat enigiets u van insig in Jesus Christus afbuig nie. Dit is die toets of u geestelik is of nie. Om ongeestelik te wees beteken dat ander dinge 'n groeiende bekoring vir u het.
"Sedert my oë op Jesus gekyk het, het ek alles daarbenewens uit die oog verloor, so geketting is my gees se visioen, terwyl ek op die Gekruisigde staar."