Daaglikse oordenking

AGSAAMHEID VS. SKYNHEILIGHEID IN ONSSELF

As iemand sy broer ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy vra, en Hy sal hom Lewe gee vir dié wat nie tot die dood sondig nie.

1 Johannes 5:16

As ons nie agsaam is op die wyse waarop die Gees van God in ons werk nie, sal ons geestelike skynheiliges word. Ons sien waar ander mense faal, en ons verander ons onderskeidingsvermoë in die spotsteek van kritiek in plaas van in voorbidding namens hulle. Die openbaring word nie deur die skerpte van ons denke aan ons gegee nie, maar deur die regstreekse deurdringing van die Gees van God, en as ons nie agsaam is op die bron van die openbaring nie, sal ons kritiserende sentrums word en vergeet dat God sê — ". . . hy moet vra, en Hy sal hom lewe gee vir dié wat nie tot die dood sondig nie." Pas op dat u nie die skynheilige speel deur al u tyd daaraan te bestee om ander reg te probeer kry voordat u self God aanbid nie.

Een van die subtielste laste wat God ooit op ons as heiliges plaas is hierdie las van onderskeidingsvermoë met betrekking tot ander siele. Hy openbaar dinge sodat ons die las van hierdie siele voor Hom kan neem en die denke van Christus oor hulle kan vorm, en namate ons langs Sy lyn voorbidding doen, sê God dat Hy aan ons sal gee "lewe vir dié wat nie tot die dood sondig nie." Dit is nie dat ons God met ons denke in aanraking bring nie, maar dat ons onsself opwek totdat God in staat is om Sy denke aan ons oor te dra oor die een vir wie ons voorbidding doen.

Sien Jesus Christus van die barensweeë van Sy siel in ons? Hy kan nie tensy ons so met Homself vereenselwig is dat ons opgewek word om Sy siening te kry oor die mense vir wie ons bid nie. Mag ons leer om so heelhartig voorbidding te doen dat Jesus Christus oorvloedig met ons as voorbidders bevredig sal wees.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in