HEILIGHEID VS. HARDHEID JEENS GOD
“En Hy . . . was verwonderd dat daar geen voorbidder was nie.”
Jesaja 59:16
Die rede waarom baie van ons ophou bid en hard teenoor God word is dat ons slegs ’n sentimentele belangstelling in gebed het. Dit klink reg om te sê dat ons bid; ons lees boeke oor gebed wat vir ons sê dat gebed voordelig is, dat ons denke tot rus gebring en ons siele verhef word wanneer ons bid; maar Jesaja impliseer dat God verbaas is oor sulke gedagtes oor gebed.
Aanbidding en voorbidding moet saamgaan, die een is sonder die ander onmoontlik. Voorbidding beteken dat ons onsself opwek om die denke van Christus te verkry oor die een vir wie ons bid. Te dikwels konstrueer ons in plaas daarvan om God te aanbid, verklarings oor hoe gebed werk. Aanbid ons of is ons in ’n geskil met God — "Ek sien nie hoe U dit gaan doen nie." Dit is ’n seker teken dat ons nie aanbid nie. Wanneer ons God uit die oog verloor word ons hard en dogmaties. Ons slinger ons eie versoeke na God se troon en skryf aan Hom voor wat ons wil hê Hy moet doen. Ons aanbid God nie, en ons probeer ook nie die denke van Christus vorm nie. As ons hard teenoor God is, sal ons hard teenoor ander mense word.
Aanbid ons God so dat ons onsself opwek om Hom vas te gryp sodat ons in aanraking met Sy denke gebring kan word oor dié vir wie ons bid? Leef ons in ’n heilige verhouding tot God, of is ons hard en dogmaties?
"Maar daar is niemand wat behoorlik voorbidding doen nie" — wees dan self daardie een, wees die een wat God aanbid en in ’n heilige verhouding tot Hom leef. Gaan in die werklike werk van voorbidding in, en onthou dat dit ’n werk is, ’n werk wat elke vermoë belas; maar ’n werk wat geen strik het nie. Die prediking van die Evangelie het ’n strik; voorbiddingsgebed het geen.