ONS HERE SE VERRASSINGSBESOEKE
“Wees julle dan ook bereid.”
Lukas 12:40
Die groot behoefte van die Christelike arbeider is om bereid te wees om Jesus Christus by enige en elke draai onder oë te sien. Dit is nie maklik nie, ongeag wat ons ervaring is. Die stryd is nie teen sonde of moeilikhede of omstandighede nie, maar daarteen om so in werk verdiep te wees dat ons nie bereid is om Jesus Christus by elke draai onder oë te sien nie. Dit is die een groot behoefte, nie om ons geloof, of ons geloofsoortuiging en geloofsbelydenis, of die vraag of ons van enige nut is onder oë te sien nie, maar om Hom onder oë te sien.
Jesus kom selde waar ons Hom verwag; Hy verskyn waar ons Hom die minste verwag, en altyd in die onlogiesste verbande. Die enigste wyse waarop ’n arbeider aan God getrou kan bly is deur gereed te wees vir die Here se verrassingsbesoeke. Dit is nie diens wat saak maak nie, maar intense geestelike werklikheid, om Jesus Christus by elke draai te verwag. Dit sal aan ons lewe die houding van kindverwondering gee wat Hy wil hê dit moet hê. As ons vir Jesus Christus gereed gaan wees, moet ons ophou om godsdienstig te wees (dit wil sê, godsdiens as ’n hoër soort kultuur te gebruik) en geestelik werklik wees.
As u "wegkyk na Jesus," die roep van die godsdienstige tyd waarin u leef vermy, en u hart stel op wat Hy wil hê, daarop om langs Sy lyn te dink — sal u onprakties en dromerig genoem word; maar wanneer Hy in die las en die hitte van die dag verskyn, sal u die enigste een wees wat gereed is. Vertrou niemand nie, selfs nie die voortreflikste heilige wat ooit op hierdie aarde gewandel het nie, ignoreer hom, as hy u uitsig op Jesus Christus verhinder.