IS DAAR NIE DIE EEN OF ANDER MISVERSTAND NIE?
“Laat ons na Judea gaan. Sy dissipels sê vir Hom . . . Gaan U weer daarheen?”
Johannes 11:7-8
Ek verstaan moontlik nie wat Jesus Christus sê nie, maar dit is gevaarlik om te sê dat Hy Hom daarom vergis het in wat Hy gesê het. Dit is nooit reg om te dink dat my gehoorsaamheid aan ’n Woord van God oneer oor Jesus sal bring nie. Die enigste ding wat oneer sal bring is om Hom nie te gehoorsaam nie. Om my siening van Sy eer in die plek te stel van wat Hy my duidelik aandryf om te doen is nooit reg nie, hoewel dit uit ’n werklike begeerte kan ontstaan om te voorkom dat Hy openlik beskaam word. Ek weet wanneer die voorstel van God kom vanweë die stille volharding daarvan: Wanneer ek die voordele en nadele moet opweeg, en twyfel en debat inkom, bring ek ’n element in wat nie van God is nie, en ek kom tot die gevolgtrekking dat die voorstel nie reg was nie. Baie van ons is lojaal aan ons denkbeelde van Jesus Christus, maar hoeveel van ons is lojaal aan Hom? Trou aan Jesus beteken dat ek moet uitstap waar ek niks sien nie (vgl. Matt. 14:29); trou aan my denkbeelde beteken dat ek eers deur my intelligensie die grond skoonmaak. Geloof is nie intelligente begrip nie, geloof is doelbewuste toevertrouing aan ’n Persoon waar ek geen weg sien nie.
Debatteer u of u ’n stap in geloof in Jesus moet doen of moet wag totdat u kan sien hoe om die ding self te doen? Gehoorsaam Hom met blye roekelose vreugde. Wanneer Hy iets sê en u begin debatteer, is dit omdat u ’n opvatting van Sy eer het wat nie Sy eer is nie. Is u lojaal aan Jesus of lojaal aan u denkbeeld van Hom? Is u lojaal aan wat Hy sê, of probeer u ’n skikking tref met opvattings wat nooit van Hom gekom het nie? "Wat Hy ook al vir julle sê, doen dit."