VISIOEN DEUR PERSOONLIKE KARAKTER
“Kom hierheen op, en Ek sal jou dinge toon.”
Openbaring 4:1
’n Verhewe stemming kan slegs uit ’n verhewe gewoonte van persoonlike karakter kom. As u in die uiterlikhede van u lewe leef tot by die hoogste wat u ken, sal God voortdurend sê — "Vriend, gaan hoër op." Die goue reël in versoeking is — Gaan hoër. Wanneer u hoër op kom, kom u voor ander versoekings en kenmerke te staan. Satan gebruik die strategie van verheffing in versoeking, en God doen dieselfde, maar die uitwerking is anders. Wanneer die duiwel u in ’n verhewe plek plaas, laat hy u u idee van heiligheid opdraai bo wat vlees en bloed ooit kon hoor, dit is ’n geestelike akrobatiese vertoning, u is net gebalanseer en durf nie beweeg nie; maar wanneer God u deur Sy genade in die hemelse plekke verhef, vind u in plaas van ’n spits waaraan u moet vasklou, ’n groot plato waarop dit maklik is om te beweeg.
Vergelyk hierdie week in u geestelike geskiedenis met dieselfde week verlede jaar en kyk hoe God u hoër op geroep het. Ons is almal gebring om vanuit ’n hoër standpunt te sien. Moet God nooit een punt van waarheid aan u laat gee waarby u nie onmiddellik leef nie. Werk dit altyd uit, bly in die lig daarvan.
Groei in genade word nie gemeet aan die feit dat u nie teruggegaan het nie, maar dat u insig het in waar u geestelik is; u het God hoor sê "Kom hoër op," nie persoonlik aan u nie, maar aan die insig van u karakter.
"Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek doen?" God moet vir ons verberg wat Hy doen totdat ons deur persoonlike karakter by die plek kom waar Hy dit kan openbaar.