Daaglikse oordenking

VISIOEN DEUR PERSOONLIKE REINHEID

Salig is die reines van hart; want hulle sal God sien.

Matteus 5:8

Reinheid is nie onskuld nie, dit is veel meer. Reinheid is die uitkoms van volgehoue geestelike meegevoel met God. Ons moet in reinheid groei. Die lewe met God kan reg wees en die innerlike reinheid onbevlek bly, en tog kan die bloesem aan die buitekant nou en dan bevlek word. God beskerm ons nie teen hierdie moontlikheid nie, omdat ons op hierdie wyse die noodsaaklikheid besef om die visioen deur persoonlike reinheid te handhaaf. As die geestelike bloesem van ons lewe met God in die geringste mate beskadig raak, moet ons alles laat staan en dit laat regstel. Onthou dat visioen van karakter afhang — die reines van hart sien God.

God maak ons rein deur Sy soewereine genade, maar ons het iets om na om te sien, hierdie liggaamlike lewe waardeur ons met ander mense en met ander standpunte in aanraking kom, dit is hulle wat geneig is om te bevlek. Nie slegs moet die innerlike heiligdom reg met God gehou word nie, maar die buitenste voorhowe moet ook in volmaakte ooreenstemming gebring word met die reinheid wat God deur Sy genade aan ons gee. Die geestelike begrip word onmiddellik vertroebel wanneer die buitenste voorhof bevlek word. As ons persoonlike aanraking met die Here Jesus Christus gaan behou, sal dit beteken dat daar sommige dinge is wat ons sal moet versmaai om te doen of te dink, sommige geoorloofde dinge wat ons sal moet versmaai om aan te raak.

’n Praktiese wyse om persoonlike reinheid onbevlek te hou in verhouding tot ander mense is om vir uself te sê — Daardie man, daardie vrou, volmaak in Christus Jesus! Daardie vriend, daardie familielid, volmaak in Christus Jesus!

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in