DIE FYNGEVOELIGSTE SENDING OP AARDE
“Die vriend van die Bruidegom.”
Johannes 3:29
Goedheid en reinheid behoort nooit aandag na hulself te trek nie, hulle behoort eenvoudig magnete te wees wat na Jesus Christus trek. As my heiligheid nie na Hom toe trek nie, is dit nie heiligheid van die regte orde nie, maar ’n invloed wat buitensporige geneentheid sal wakker maak en siele weg in sydraaikolke sal lei. ’n Pragtige heilige kan ’n hindernis wees as hy nie Jesus Christus aanbied nie maar slegs wat Christus vir hom gedoen het. Hy sal die indruk laat — "Wat ’n voortreflike karakter is daardie mens!" Dit is nie om ’n ware vriend van die Bruidegom te wees nie; ek neem die hele tyd toe, Hy nie.
Om hierdie vriendskap en trou aan die Bruidegom te handhaaf, moet ons versigtiger wees met ons sedelike en lewenskragtige verhouding met Hom as met enige ander ding, selfs gehoorsaamheid. Soms is daar niks om te gehoorsaam nie, die enigste ding om te doen is om ’n lewenskragtige verbinding met Jesus Christus te handhaaf, om toe te sien dat niks daarmee inmeng nie. Slegs af en toe moet ons gehoorsaam. Wanneer ’n krisis ontstaan moet ons uitvind wat God se wil is, maar die grootste deel van die lewe is nie bewuste gehoorsaamheid nie maar die handhawing van hierdie verhouding — die vriend van die Bruidegom. Christelike werk kan ’n middel wees om die siel se konsentrasie op Jesus Christus te ontwyk. In plaas daarvan om vriende van die Bruidegom te wees, kan ons amateur-Voorsienighede word, en teen Hom werk terwyl ons Sy wapens gebruik.