Daaglikse oordenking

IS EK VLEESLIK GESIND?

Aangesien daar onder julle jaloesie en twis is, is julle nie vleeslik nie?

1 Korintiërs 3:3

Geen natuurlike mens weet enigiets van vleeslikheid nie. Die vlees wat begeer teen die Gees wat by wedergeboorte ingekom het, en die Gees wat begeer teen die vlees, bring vleeslikheid voort. "Wandel deur die Gees," sê Paulus, "en julle sal nie die begeerlikhede van die vlees vervul nie"; en vleeslikheid sal verdwyn.

Is u twisgierig, maklik deur nietighede verontrus? "O, maar geen Christen is ooit so nie!" Paulus sê hulle is, hy verbind hierdie dinge met vleeslikheid. Is daar ’n waarheid in die Bybel wat onmiddellik prikkelbaarheid in u wakker maak? Dit is ’n bewys dat u nog vleeslik is. As heiligmaking uitgewerk word, bly daar geen spoor van daardie gees oor nie.

As die Gees van God enigiets verkeerds in u bespeur, vra Hy u nie om dit reg te stel nie; Hy vra u om die lig te aanvaar, en Hy sal dit regstel. ’n Kind van die lig bely onmiddellik en staan ontbloot voor God; ’n kind van die duisternis sê — "O, ek kan dit wegverduidelik." Wanneer die lig eenmaal deurbreek en die oortuiging van die verkeerde kom, wees ’n kind van die lig, en bely, en God sal handel met wat verkeerd is; as u uself regverdig, bewys u dat u ’n kind van die duisternis is.

Wat is die bewys dat vleeslikheid weg is? Moet uself nooit mislei nie; wanneer vleeslikheid weg is is dit die werklikste ding denkbaar. God sal sorg dat u ’n menigte geleenthede het om aan uself die wonder van Sy genade te bewys. Die praktiese toets is die enigste bewys. "Wel," sê u, "as dit tevore gebeur het, sou daar die gees van gegriefdheid gewees het!" U sal nooit ophou om die verbaasste persoon op aarde te wees oor wat God aan die binnekant vir u gedoen het nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in