Daaglikse oordenking

DIE BRANDENDE HART

Het ons hart nie in ons gebrand nie?

Lukas 24:32

Ons moet hierdie geheim van die brandende hart leer. Skielik verskyn Jesus aan ons, die vure word aangesteek, ons het wonderbare visioene, dan moet ons leer om die geheim van die brandende hart te bewaar wat deur enigiets sal gaan. Dit is die saai, kaal, troostelose, alledaagse dag, met alledaagse pligte en mense, wat die brandende hart doodmaak tensy ons die geheim geleer het om in Jesus te bly.

Baie van ons benoudheid as Christene kom nie weens sonde nie, maar omdat ons onkundig is oor die wette van ons eie natuur. Die enigste toets om byvoorbeeld te bepaal of ons ’n emosie sy gang behoort te laat gaan, is om te sien wat die uitkoms van die emosie sal wees. Dryf dit tot sy logiese gevolgtrekking, en as die uitkoms iets is wat God sou veroordeel, moet u dit geen verdere gang laat gaan nie. Maar as dit ’n emosie is wat deur die Gees van God aangesteek is en u daardie emosie nie sy regmatige uitloop in u lewe laat hê nie, sal dit op ’n laer vlak reageer. Dit is die wyse waarop sentimentaliste gemaak word. Hoe hoër die emosie is, hoe dieper sal die vernedering wees, as dit nie op sy behoorlike vlak uitgewerk word nie. As die Gees van God u geroer het, maak soveel dinge as moontlik onvermydelik, laat die gevolge wees wat hulle wil. Ons kan nie op die berg van gedaanteverandering bly nie, maar ons moet die lig gehoorsaam wat ons daar ontvang het; ons moet dit in handeling uitleef. Wanneer God ’n visioen gee, gaan ’n transaksie op daardie lyn aan, ongeag wat dit kos.

"Ons kan nie wanneer ons wil die vuur aansteek wat in die hart woon nie, Die gees waai en is stil, In geheimenis bly ons siel; maar take wat in ure van insig gewil is kan deur ure van somberheid vervul word."

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in