DIE TEUELLOSE OORGAWE VAN GOD
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy gegee het . . .”
Johannes 3:16
Redding is nie bloot verlossing van sonde, of die ervaring van persoonlike heiligheid nie; die redding van God is verlossing geheel en al uit die self tot in vereniging met Homself. My proefondervindelike kennis van redding sal langs die lyn van verlossing van sonde en van persoonlike heiligheid loop; maar redding beteken dat die Gees van God my in aanraking met God se persoonlikheid gebring het, en ek word verruk deur iets wat oneindig groter as myself is, ek word in die teuellose oorgawe van God opgeneem.
Om te sê dat ons geroep is om heiligheid of heiligmaking te verkondig, is om in ’n sydraaikolk te beland. Ons word geroep om Jesus Christus te verkondig. Die feit dat Hy van sonde red en ons heilig maak is deel van die uitwerking van die wonderbare teuellose oorgawe van God.
Teuellose oorgawe bring nooit die bewussyn van sy eie inspanning voort nie, omdat die hele lewe in beslag geneem word deur die Een aan Wie ons ons teuelloos oorgee. Waak daarteen om oor teuellose oorgawe te praat as u niks daarvan weet nie, en u sal nooit iets daarvan weet totdat u besef het dat Johannes 3:16 beteken dat God Homself absoluut gegee het nie. In ons teuellose oorgawe gee ons onsself aan God oor net soos God Homself vir ons gegee het, sonder enige berekening. Die gevolg van teuellose oorgawe kom nooit in ons uitsig binne nie omdat ons lewe deur Hom in beslag geneem word.