TEUELLOSE OORGAWE
“Toe begin Petrus vir Hom sê, Kyk, ons het alles verlaat, en U gevolg. . . .”
Markus 10:28
Ons Here antwoord in werklikheid, dat teuellose oorgawe vir Homself is, en nie vir wat die dissipels self daaruit sal kry nie. Waak teen ’n teuellose oorgawe wat die kommersiële gees in hom het — "Ek gaan myself aan God gee omdat ek van sonde verlos wil word, omdat ek heilig gemaak wil word." Dit alles is die gevolg daarvan om reg met God te wees, maar daardie gees is nie van die wesenlike natuur van Christelikheid nie. Teuellose oorgawe is glad nie vir enigiets nie. Ons het so gekommersialiseer geraak dat ons slegs na God gaan vir iets van Hom, en nie vir Homself nie. Dit is soos om te sê, "Nee, Here, ek wil U nie hê nie, ek wil myself hê; maar ek wil myself rein en met die Heilige Gees vervul hê; ek wil in U vertoonkamer geplaas word en kan sê — 'Dit is wat God vir my gedoen het.'" As ons slegs iets aan God prysgee omdat ons meer terug wil hê, is daar niks van die Heilige Gees in ons teuellose oorgawe nie; dit is ellendige kommersiële eiebelang. Dat ons die hemel verkry, dat ons van sonde verlos word, dat ons vir God bruikbaar gemaak word — hierdie dinge kom nooit as oorwegings in werklike teuellose oorgawe binne nie, wat ’n persoonlike soewereine voorkeur vir Jesus Christus Homself is.
Wanneer ons teen die versperrings van natuurlike verhouding te staan kom, waar is Jesus Christus? Die meeste van ons verlaat Hom — "Ja, Here, ek het U roep gehoor; maar my moeder is in die pad, my vrou, my eiebelang, en ek kan nie verder gaan nie." "Dan," sê Jesus, "kan jy nie My dissipel wees nie."
Die toets van teuellose oorgawe is altyd oor die nek van natuurlike toewyding heen[1]. Gaan daaroor, en God se eie teuellose oorgawe sal almal omhels wat u moes seermaak toe u uself teuelloos oorgegee het. Waak daarteen om kort voor teuellose oorgawe aan God te stop. Die meeste van ons ken teuellose oorgawe slegs in ’n visioen.
[1] Chambers gebruik hier die ongewone beeld van ’n ‘nek’ vir die smal, moeilike oorgang waar natuurlike toewyding die volle oorgawe aan God op die proef stel. Die woord is bewustelik letterlik behou omdat die Engelse neck, benewens ’n liggaamsdeel, ook ’n nou verbinding of vernouing kan aandui en hier na die beslissende knelpunt verwys waaroor ’n mens moet gaan.