VISIOEN
“Ek was nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie.”
Handelinge 26:19
As ons die visioen verloor, is ons alleen verantwoordelik, en die wyse waarop ons die visioen verloor is deur geestelike lekkasie. As ons ons geloof omtrent God nie in praktiese gevolge laat inloop nie, is dit klaar met die visioen wat God gegee het. Die enigste wyse om aan die hemelse visioen gehoorsaam te wees is om ons uiterste vir God se hoogste te gee, en dit kan slegs gedoen word deur die visioen voortdurend en vasberade te onthou. Die toets is die sestig sekondes van elke minuut, en die sestig minute van elke uur, nie ons tye van gebed en toewydingsbyeenkomste nie.
"Al talm dit, wag daarop." Ons kan nie ’n visioen bereik nie, ons moet in die inspirasie daarvan leef totdat dit homself volbring. Ons raak so prakties dat ons die visioen vergeet. Aan die begin het ons dit gesien maar nie daarop gewag nie; ons het ons in praktiese werk ingestorm, en toe die visioen vervul is, het ons dit nie gesien nie. Om te wag op die visioen wat talm is die toets van ons trou aan God. Dit is met gevaar vir die welsyn van ons siel dat ons in praktiese werk meegesleur raak en die vervulling van die visioen mis.
Hou God se siklone dop. Die enigste wyse waarop God Sy heiliges saai is deur Sy warrelwind. Gaan u ’n leë saadhuls blyk te wees? Dit sal daarvan afhang of u daadwerklik in die lig leef van wat u gesien het of nie. Laat God u uitslinger, en moenie gaan voordat Hy dit doen nie. As u u eie plek kies, sal u ’n leë saadhuls blyk te wees. As God u saai, sal u vrug voortbring.
Dit is noodsaaklik om die wandel van die voete in die lig van die visioen te beoefen.