ONVERSKROKKE GLANS
“Nee, in al hierdie dinge, is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”
Romeine 8:37
Paulus praat van die dinge wat waarskynlik kan lyk asof hulle die heilige en die liefde van God skei of tussen hulle ’n wig inslaan; maar die merkwaardige ding is dat niks ’n wig tussen die liefde van God en die heilige kan inslaan nie. Hierdie dinge kan en kom wel tussen die toegewyde oefeninge van die siel en God in en skei die individuele lewe van God; maar nie een van hulle is in staat om ’n wig tussen die liefde van God en die siel van die heilige in te slaan nie. Die rotsbodem van ons Christelike geloof is die onverdiende, bodemlose wonder van die liefde van God wat op die Kruis van Golgota vertoon is, ’n liefde wat ons nooit kan en nooit sal verdien nie. Paulus sê dit is die rede waarom ons in al hierdie dinge meer as oorwinnaars is, superoorwinnaars, met ’n vreugde wat ons nie sou hê as dit nie vir die einste dinge was wat lyk asof hulle ons gaan oorweldig nie.
Die branders wat die gewone swemmer benoud maak bring in die branderryer die supervreugde voort om skoon daardeur te gaan. Pas dit op ons eie omstandighede toe, hierdie einste dinge — verdrukking, benoudheid, vervolging, bring in ons die supervreugde voort; hulle is nie dinge om te beveg nie. Ons is deur Hom meer as oorwinnaars in al hierdie dinge, nie ten spyte van hulle nie, maar te midde van hulle. Die heilige ken nooit die vreugde van die Here ten spyte van verdrukking nie, maar vanweë dit — "Ek is buitengewoon bly in al ons verdrukking," sê Paulus.
Onverskrokke glans word nie op enigiets verbygaands gebou nie, maar op die liefde van God wat niks kan verander nie. Die ervarings van die lewe, verskriklik of eentonig, is magteloos om die liefde van God aan te raak, wat in Christus Jesus ons Here is.