GLO JULLE NOU?
“Hierdeur glo ons . . . Jesus het geantwoord, Glo julle nou?”
Johannes 16:30-31
Nou glo ons. Jesus sê — Glo julle? Die tyd kom wanneer julle My alleen sal laat. Menige Christelike arbeider het Jesus Christus alleen gelaat en uit ’n pligsbesef, of uit ’n besef van nood wat uit sy eie bepaalde onderskeidingsvermoë ontstaan het die werk ingegaan. Die rede hiervoor is die afwesigheid van die opstandingslewe van Jesus. Die siel het uit intieme aanraking met God geraak deur op sy eie godsdienstige begrip te steun. Daar is geen sonde daarin nie, en geen straf daaraan verbonde nie; maar wanneer die siel besef hoe hy sy begrip van Jesus Christus verhinder, en vir homself verbysterings en smarte en moeilikhede voortgebring het, moet hy met skaamte en verbryseling terugkom.
Ons moet baie dieper as wat ons doen op die opstandingslewe van Jesus steun, om in die gewoonte te kom om alles bestendig na Hom terug te verwys; in plaas hiervan neem ons ons gesonde verstand besluite en vra God om hulle te seën. Hy kan nie, dit is nie op Sy terrein nie, dit is van die werklikheid afgesny. As ons iets uit pligsbesef doen, rig ons ’n standaard in mededinging met Jesus Christus op. Ons word ’n "meerderwaardige persoon," en sê — "Nou moet ek in hierdie saak dit en dat doen." Ons het ons pligsbesef op die troon geplaas in plaas van die opstandingslewe van Jesus. Daar word nie vir ons gesê om in die lig van die gewete of van ’n pligsbesef te wandel nie, maar om in die lig te wandel soos God in die lig is. Wanneer ons enigiets uit pligsbesef doen, kan ons dit met ’n argument staaf; wanneer ons enigiets in gehoorsaamheid aan die Here doen, is geen argument moontlik nie; daarom kan ’n heilige maklik bespot word.