VERARMDE BEDIENING VAN JESUS
“Waarvandaan het U dan daardie lewende water?”
Johannes 4:11
"Die put is diep" — en baie dieper as wat die Samaritaanse vrou geweet het! Dink aan die dieptes van die menslike natuur, van die menslike lewe, dink aan die dieptes van die "putte" in u. Het u die bediening van Jesus verarm sodat Hy niks kan doen nie? Veronderstel daar is ’n put van bodemlose moeilikheid in u hart, en Jesus kom en sê — "Laat u hart nie ontsteld word nie"; en u trek u skouers op en sê, "Maar, Here, die put is diep; U kan nie rustigheid en vertroosting daaruit opskep nie." Nee, Hy sal hulle van bo af na benede bring. Jesus bring niks uit die putte van die menslike natuur omhoog nie. Ons beperk die Heilige van Israel deur te onthou wat ons Hom in die verlede toegelaat het om vir ons te doen, en deur te sê, "Ek kan natuurlik nie verwag dat God hierdie ding sal doen nie." Die ding wat almagtigheid belas is die einste ding wat ons as dissipels van Jesus behoort te glo Hy sal doen. Ons verarm Sy bediening die oomblik wanneer ons vergeet dat Hy Almagtig is; die verarming is in ons, nie in Hom nie. Ons sal na Jesus kom as Trooster of as Meevoeler, maar ons sal nie na Hom as Almagtige kom nie.
Die rede waarom sommige van ons sulke swak eksemplare van Christelikheid is is dat ons geen Almagtige Christus het nie. Ons het Christelike eienskappe en ervarings, maar daar is geen teuellose oorgawe aan Jesus Christus nie. Wanneer ons in moeilike omstandighede beland, verarm ons Sy bediening deur te sê — "Hy kan natuurlik niks doen nie," en ons worstel af na die dieptes en probeer self die water kry. Waak teen die bevrediging daarvan om terug te sink en te sê — "Dit kan nie gedoen word nie"; u weet dit kan gedoen word as u na Jesus kyk. Die put van u onvolledigheid is diep, maar doen die moeite en kyk weg na Hom.