MINDERWAARDIGE BEDENKINGE OOR JESUS
“Meneer, U het niks om mee te skep nie.”
Johannes 4:11
"Ek is beïndruk deur die wonder van wat God sê, maar Hy kan tog nie van my verwag om dit werklik in die besonderhede van my lewe uit te leef nie!" Wanneer dit daarop aankom om Jesus Christus op Sy eie meriete onder oë te sien, is ons houding een van vrome meerderwaardigheid — U ideale is hoog en hulle beïndruk ons, maar in aanraking met daadwerklike dinge, kan dit nie gedoen word nie. Elkeen van ons dink in een of ander bepaalde opsig op hierdie wyse oor Jesus. Hierdie bedenkinge oor Jesus begin by die geamuseerde vrae wat aan ons gestel word wanneer ons van ons transaksies met God praat — Waar gaan u u geld vandaan kry? Hoe sal daar na u omgesien word? Of hulle begin by onsself wanneer ons vir Jesus sê dat ons geval vir Hom ’n bietjie te moeilik is. Dit is alles goed en wel om te sê "Vertrou op die Here," maar ’n mens moet lewe, en Jesus het niks om mee te skep nie — niks waardeur Hy vir ons hierdie dinge kan gee nie. Waak teen die vrome bedrog in u wat sê — Ek het geen bedenkinge oor Jesus nie, slegs oor myself. Niemand van ons het ooit bedenkinge oor onsself gehad nie; ons weet presies wat ons nie kan doen nie, maar ons het wel bedenkinge oor Jesus. Ons voel nogal seergemaak by die gedagte dat Hy kan doen wat ons nie kan nie.
My bedenkinge ontstaan uit die feit dat ek my eie persoon deursoek om uit te vind hoe Hy dit sal kan doen. My vrae ontspring uit die dieptes van my eie minderwaardigheid. As ek hierdie bedenkinge in myself bespeur, laat ek hulle na die lig bring en hulle bely — "Here, ek het bedenkinge oor U gehad, ek het nie in U vernuf onafhanklik van my eie geglo nie; ek het nie in U almagtige krag onafhanklik van my eindige begrip daarvan geglo nie."