DIE BEROOIING VAN DIENS
“Hoewel ek julle oorvloediger liefhet, word ek minder liefgehê.”
2 Korintiërs 12:15
Natuurlike liefde verwag iets terug, maar Paulus sê — Ek gee nie om of julle my liefhet of nie, ek is gewillig om myself volkome te berooi, nie bloot ter wille van julle nie, maar sodat ek julle by God kan kry. "Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, dat Hy, hoewel Hy ryk was, tog ter wille van julle arm geword het." Paulus se gedagte van diens is presies op daardie lyn — Ek gee nie om met watter uitspattigheid ek myself bestee nie, en ek sal dit graag doen. Dit was vir Paulus ’n vreugdevolle ding.
Die kerklike gedagte van ’n dienaar van God is nie Jesus Christus se gedagte nie. Sy gedagte is dat ons Hom dien deur die dienaars van ander mense te wees.
Jesus Christus oortref die sosialiste in hulle sosialisme. Hy sê dat in Sy Koninkryk die een wat die grootste is die dienaar van almal sal wees. Die werklike toets van die heilige is nie om die Evangelie te verkondig nie, maar om dissipels se voete te was, dit wil sê, om die dinge te doen wat in die daadwerklike skatting van mense nie tel nie maar in God se skatting alles tel. Paulus het hom daarin verheug om homself vir God se belange in ander mense uit te bestee, en hy het nie omgegee wat dit kos nie. Ons kom met ons ekonomiese denkbeelde — "Veronderstel God wil hê dat ek daarheen gaan — wat van die salaris? Wat van die klimaat? Hoe sal daar na my omgesien word? ’n Mens moet hierdie dinge in ag neem." Dit alles is ’n aanduiding dat ons God met ’n voorbehoud dien. Die apostel Paulus het geen voorbehoud gehad nie. Paulus fokus Jesus Christus se gedagte van ’n Nuwe-Testamentiese heilige in sy lewe, nl.: nie iemand wat bloot die Evangelie verkondig nie, maar iemand wat gebreekte brood en uitgegiete wyn in die hande van Jesus Christus vir ander lewens word.