Daaglikse oordenking

DIE VASBESLOTENHEID OM TE DIEN

Die Seun van die mens het nie gekom om bedien te word nie, maar om te dien.

Matteus 20:28

Paulus se gedagte van diens is dieselfde as dié van Ons Here: "Ek is onder julle soos een wat dien;" "onsself julle dienaars ter wille van Jesus." Ons het die gedagte dat ’n mens wat tot die bediening geroep is geroep word om ’n ander soort wese as ander mense te wees. Volgens Jesus Christus, word hy geroep om die "deurmat" van ander mense te wees; hulle geestelike leier, maar nooit hulle meerdere nie. "Ek weet hoe om verneder te word," sê Paulus. Dit is Paulus se gedagte van diens — "Ek sal myself tot die laaste eb vir julle bestee; julle mag my lof of blaam gee, dit sal geen verskil maak nie." Solank daar ’n mens is wat Jesus Christus nie ken nie, is ek sy skuldenaar om hom te dien totdat hy Hom wel ken. Die dryfveer van Paulus se diens is nie liefde vir mense nie, maar liefde vir Jesus Christus. As ons aan die saak van die mensdom toegewy is, sal ons gou verbrysel en hartgebroke wees, want ons sal dikwels meer ondankbaarheid van mense teëkom as wat ons van ’n hond sou; maar as ons beweegrede liefde vir God is, kan geen ondankbaarheid ons verhinder om ons medemense te dien nie.

Paulus se besef van hoe Jesus Christus met hom gehandel het is die geheim van sy vasbeslotenheid om ander te dien. "Ek was tevore ’n meineedpleger, ’n lasteraar, ’n skadelike persoon" — ongeag hoe mense my behandel, hulle sal my nooit behandel met die venyn en haat waarmee ek Jesus Christus behandel het nie. Wanneer ons besef dat Jesus Christus ons tot aan die einde van ons gemeenheid, ons selfsug, en sonde gedien het, kan niks wat ons van ander teëkom ons vasbeslotenheid uitput om mense ter wille van Hom te dien nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in