DIE DISSIPLINE VAN GEESTELIKE VASHOUDENDHEID
“Wees stil, en weet dat Ek God is.”
Psalms 46:10
Vashoudendheid is meer as uithouvermoë, dit is uithouvermoë saam met die absolute sekerheid dat dit waarna ons uitsien gaan gebeur. Vashoudendheid is meer as vasklou, wat bloot die swakheid kan wees dat ’n mens te bang is om af te val. Vashoudendheid is die hoogste inspanning van ’n mens wat weier om te glo dat sy held oorwin gaan word. Die grootste vrees wat ’n mens het is nie dat hy verdoem sal word nie, maar dat Jesus Christus verslaan sal word, dat die dinge waarvoor Hy gestaan het — liefde en geregtigheid en vergifnis en vriendelikheid onder mense — uiteindelik nie sal seëvier nie; die dinge waarvoor Hy staan lyk soos dwaalligte. Dan kom die roep tot geestelike vashoudendheid, nie om vas te klou en niks te doen nie, maar om doelbewus te werk op die sekerheid dat God nie verslaan gaan word nie.
As ons verwagtings nou teleurgestel word, beteken dit dat hulle gesuiwer word. Daar is niks edels waarop die menslike denke ooit gehoop of waarvan dit ooit gedroom het wat nie vervul sal word nie. Een van die grootste spanninge in die lewe is die spanning daarvan om op God te wag. "Omdat u die woord van My geduld bewaar het."
Bly geestelik vashoudend.