IS U OOIT VIR HOM MEEGEVOER?
“Sy het ’n goeie werk aan My gedoen.”
Markus 14:6
As menslike liefde ’n mens nie buite homself meevoer nie, is dit nie liefde nie. As liefde altyd taktvol, altyd wys, altyd verstandig en berekenend is, nooit buite haarself meegevoer nie, is dit glad nie liefde nie. Dit mag toegeneentheid wees, dit mag warmte van gevoel wees, maar dit het nie die ware natuur van liefde in sigself nie.
Is ek ooit meegevoer om iets vir God te doen nie omdat dit my plig was nie, ook nie omdat dit nuttig was nie, ook nie omdat daar enigsins iets daarin was buiten die feit dat ek Hom liefhet nie? Het ek ooit besef dat ek dinge na God kan bring wat vir Hom van waarde is, of hang ek dromerig rondom die grootheid van Sy Verlossing terwyl daar ’n menigte dinge is wat ek kan doen? Nie Goddelike, kolossale dinge wat as wonderbaarlik opgeteken kan word nie, maar gewone, eenvoudige menslike dinge wat aan God sal bewys dat ek teuelloos aan Hom oorgegee is? Het ek ooit in die hart van die Here Jesus voortgebring wat Maria van Betanië voortgebring het?
Daar is tye wanneer dit lyk asof God dophou om te sien of ons Hom die teuellose tekens sal gee van hoe opreg ons Hom wel liefhet. Teuellose oorgawe aan God is van meer waarde as persoonlike heiligheid. Persoonlike heiligheid rig die oog op ons eie witheid; ons is baie besorg oor die wyse waarop ons wandel en praat en lyk, bevrees dat ons Hom aanstoot gee. Volmaakte liefde werp dit alles uit wanneer ons eenmaal teuelloos aan God oorgegee is. Ons moet ontslae raak van hierdie denkbeeld — "Is ek van enige nut?" en besluit dat ons nie is nie, en ons mag naby die waarheid wees. Dit is nooit ’n vraag daarvan om van nut te wees nie, maar om vir God Homself van waarde te wees. Wanneer ons teuelloos aan God oorgegee is, werk Hy die hele tyd deur ons.