DIE INISIATIEF TEEN DROMERY
“Staan op, laat ons hiervandaan gaan.”
Johannes 14:31
Om oor iets te droom om dit behoorlik te doen is reg; maar om daaroor te droom wanneer ons dit behoort te doen is verkeerd. Nadat Ons Here daardie wonderlike dinge vir Sy dissipels gesê het, sou ons kon verwag dat Hy vir hulle sou sê om weg te gaan en dit alles te bepeins; maar wat Ons Here nooit toegelaat het nie was "dromerig rondhang." Wanneer ons met God in aanraking kom om uit te vind wat Hy wil hê, is droom reg; maar wanneer ons geneig is om ons tyd te bestee om te droom oor wat vir ons gesê is om te doen, is dit ’n slegte ding en God se seën is nooit daarop nie. God se inisiatief is altyd in die aard van ’n steek teen hierdie soort dromery, die steek wat ons beveel om "nóg te sit nóg te staan maar te gaan."
As ons stil voor God wag en Hy gesê het — "Kom julle self eenkant toe," dan is dit bepeinsing voor God om by die lyn uit te kom wat Hy wil hê; maar waak altyd daarteen om u aan blote dromery oor te gee nadat God eenmaal gespreek het. Laat Hom die bron van al u drome en vreugdes en verrukkings wees, en gaan uit en gehoorsaam wat Hy gesê het. As u verlief is, sit u nie en droom die hele tyd oor die een wat u liefhet nie, u gaan en doen iets vir hom; en dit is wat Jesus Christus van ons verwag. Droom nadat God gespreek het is ’n aanduiding dat ons Hom nie vertrou nie.