DIE INISIATIEF TEEN SLEURWERK
“Staan op, skyn.”
Jesaja 60:1
Ons moet die eerste stap doen asof daar geen God is nie. Dit help nie om te wag dat God ons help nie, Hy sal nie; maar sodra ons opstaan vind ons dat Hy daar is. Wanneer God inspireer, is die inisiatief ’n sedelike een. Ons moet die ding doen en nie soos ’n stomp lê nie. As ons sal opstaan en skyn, word sleurwerk goddelik van gedaante verander.
Sleurwerk is een van die beste toetsstene van karakter wat daar is. Sleurwerk is werk wat baie ver verwyder is van enigiets wat met die ideaal te doen het — die volkome geringe vuilerige dinge; en wanneer ons daarmee in aanraking kom weet ons onmiddellik of ons geestelik werklik is of nie. Lees Johannes 13. Ons sien daar hoe die Mensgeworde God die desperaatste stuk sleurwerk doen, die voete van vissers was, en Hy sê — "As Ek dan, julle Here en Meester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was." Dit verg die inspirasie van God om deur sleurwerk te gaan met die lig van God daarop. Sommige mense doen ’n bepaalde ding en die wyse waarop hulle dit doen heilig daardie ding vir altyd daarna. Dit mag die alledaagste ding wees, maar nadat ons hulle dit sien doen het, word dit anders. Wanneer die Here iets deur ons doen, verander Hy dit altyd van gedaante. Ons Here het ons menslike vlees op Hom geneem en dit van gedaante verander, en dit het vir elke heilige die tempel van die Heilige Gees geword.