DIE INISIATIEF TEEN WANHOOP
“Staan op, laat ons gaan.”
Matteus 26:46
Die dissipels het gaan slaap toe hulle wakker moes gebly het, en hulle besef van wat hulle gedoen het het wanhoop voortgebring. Die besef van die onherstelbare is geneig om ons wanhopig te maak, en ons sê — "Alles is nou verby, dit help nie om verder te probeer nie." As ons ons verbeel dat hierdie soort wanhoop uitsonderlik is, vergis ons ons, dit is ’n baie gewone menslike ervaring. Wanneer ons besef dat ons nie gedoen het waarvoor ons ’n wonderlike geleentheid gehad het nie, is ons geneig om in wanhoop weg te sink; en Jesus Christus kom en sê — "Slaap nou verder, daardie geleentheid is vir altyd verlore, u kan dit nie verander nie, maar staan op en gaan na die volgende ding." Laat die verlede slaap, maar laat dit op die bors van Christus slaap, en gaan saam met Hom uit die onweerstaanbare toekoms in.
Daar is ervarings soos hierdie in elkeen van ons se lewens. Ons is in wanhoop, die wanhoop wat uit daadwerklikhede kom, en ons kan onsself nie daaruit oplig nie. Die dissipels het in hierdie geval ’n reguit onvergeeflike ding gedoen; hulle het gaan slaap in plaas daarvan om saam met Jesus te waak, maar Hy het met ’n geestelike inisiatief teen hulle wanhoop gekom en gesê — "Staan op en doen die volgende ding." As ons deur God geïnspireer is, wat is die volgende ding? Om Hom absoluut te vertrou en op die grondslag van Sy Verlossing te bid.
Moet nooit toelaat dat die besef van mislukking u nuwe handeling bederf nie.